Oordrag van eiendom: Is BTW of hereregte betaalbaar?

Succession planning
April 23, 2015
Transfer of a property: Is VAT or transfer duty payable?
April 23, 2015

Oordrag van eiendom: Is BTW of hereregte betaalbaar?

Die Koper is verantwoordelik vir die betaling van die oordragkoste wanneer ‘n onroerende eiendom aangekoop word, maar dan moet verder bepaal word of BTW of hereregte op die transaksie aan SAID betaalbaar is.

By die oordrag van onroerende eiendom is daar altyd  BTW of hereregte betaalbaar aan SAID. Daar word na die status van die verkoper en die aard van die transaksie gekyk ten einde te bepaal of BTW of hereregte betaalbaar sal wees.

BTW

Indien die Verkoper vir BTW geregistreer is en die eiendom verkoop in die loop van of ter bevordering van sy onderneming, is BTW op die transaksie betaalbaar. ‘n Ondernemer is ‘n persoon wat ‘n onderneming bedryf en wie se totale jaarlikse belasbare inkomste R1 000 000 oorskry. Hy/sy is dus verplig om vir BTW te registreer. ‘n Verdere vereiste is dat die eiendom wat verkoop word, verband moet hou met die onderneming waaruit die ondernemer sy inkomste verdien.

Die koopkontrak moet dan stipuleer of die koopprys BTW insluit of uitsluit. Indien die koopkontrak nie melding maak van BTW nie en die verkoper is vir BTW geregistreer, word BTW geag ingesluit te wees by die koopprys en sal die verkoper 14% van die koopprys aan SAID moet betaal. Die verkoper is verantwoordelik vir die oorbetaling van die BTW aan SAID tensy die kontrak bepaal dat dit die koper se verantwoordelikheid is.

Indien die koper vir BTW geregistreer is, maar die verkoper nie, sal hereregte betaalbaar wees, maar die koper kan ná registrasie die hereregte wat betaal is van SAID terugeis.

Hereregte

As die verkoper nie vir BTW geregistreer is nie is dit redelik seker dat hereregte betaalbaar sal wees, en wel deur die koper. Die koers waarteen hereregte tans bereken word is soos volg :

  1. Die eerste R600 000 van die waarde is vrygestel van hereregte,
  2. Daarna is die hereregte 3% van die waarde tot en met R1 000 000.
  3. Vanaf R1 000 001 tot R1 500 000 is die hereregte R12 000 plus 5% van die waarde     bo R1 000 000.
  4. Op ‘n waarde van R1 500 001 en hoër is die hereregte R37 000 plus 8% van die           waarde bo R1 500 000.

Die koers waarteen hereregte betaal word, is tans dieselfde vir natuurlike en regspersone (maatskappy, beslote korporasie of trust).

Daar is enkele gevalle waar hereregte nie betaalbaar is nie, o.a. waar ‘n party ‘n eiendom bekom kragtens ‘n egskeidingsbevel of ‘n erfgenaam is uit ‘n boedel.

Hereregte word bereken op die billike waarde van die eiendom wat gewoonlik die koopsom is. Indien die markwaarde van die eiendom egter hoër as die koopsom is,sal hereregte op die hoogste bedrag gehef word. Hereregte moet oorbetaal word aan SAID binne ses maande vanaf datum van kontraksluiting.

Wanneer  aandele in ‘n maatskappy, of die ledebelang in ‘n beslote korporasie, of die regte in ‘n trust oorgedra word, is die transaksie onderhewig aan die betaling van hereregte indien die regspersoon die eienaar van ‘n residensiële eiendom is.

Nulkoers-transaksies 

Dit beteken dat BTW wel betaalbaar is, maar teen ‘n koers van 0%. Waar beide die verkoper en koper vir BTW geregistreer is en die eiendom as ‘n lopende saak verkoop word, word BTW teen ‘n nulkoers gehef, bv. waar ‘n boer sy plaas tesame met die implemente en vee verkoop.

Vrystelling

Waar die verkoper vir BTW geregistreer is en sy besigheid die koop en verkoop van eiendom en die verhuring daarvan vir woondoeleindes behels, en hy die verhuurde eiendom verkoop, is daar nie BTW betaalbaar nie, maar wel hereregte.

Dit is dus belangrik vir die koper om met die sluiting van die kontrak navraag te doen oor die BTW-status van die verkoper. Die verkoper wat vir BTW geregistreer is, moet met kontraksluiting die koopprysklousule deeglik nagaan om seker te maak of die verkoopprys BTW insluit of uitsluit.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou finansiële adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.

Comments are closed.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X