SAID: Heropening van vorige jare se belastingaanslae

Step by step guide to easy UIF claims
July 21, 2015
SARS prescription
July 21, 2015

SAID: Heropening van vorige jare se belastingaanslae

Stel jouself die volgende voor: ʼn belastingbetaler, Andrew, neem sy jaarlikse vakansie van vier weke. Op die vyfde dag van sy vakansie, terwyl Andrew sorgvry in die son lê en bak met sy tone in die warm sand en die koel seebriesie in sy hare, wonder hy of hy nie dalk sy e-pos moet nagaan nie.

Dit is nou agt ure later en Andrew teken aan om sy e-pos te lees. Hy wil nie regtig baie tyd aan die e-posse spandeer nie, hy is immers op vakansie. Terwyl hy vlugtig na die e-posse kyk vang sy oog skielik een spesifieke e-pos. Sy hartklop versnel terwyl koue sweet orals op sy lyf uitslaan. Hy het ʼn SAID e-pos raakgesien. Aarselend maak hy die e-pos oop, en na ʼn oomblik se huiwering kliek hy ook om die aangehegde dokument oop te maak. Die dokument is ʼn brief van SAID, waarin hulle hom daarvan in kennis stel dat hulle sy inkomstebelastingaanslag vir ʼn sekere belastingaar gaan herevalueer. Die aanslag vir daardie spesifieke belastingjaar is meer as vier jaar gelede afgehandel. Kan die SAID dit doen?

Om onderwerp te word aan die heropening van ʼn aanslag wat reeds jare gelede gefinaliseer is, is iets waaraan belastingbetalers nie eers wil dink nie. Volgens die nuwe Belasting Administrasie Wet (Tax Administration Act of TAA) mag die SAID wel ʼn belastingopgawe van meer as drie jaar gelede heropen mits die Kommissaris objektief, en gebaseer op die feite, tevrede is dat daar aan beide die volgende statutêre vereistes voldoen word:

  1. Daar was bedrog, wanvoorstelling of nie-openbaarmaking van wesenlike feite.

“Bedrog” word gedefinieer as ʼn onwettige daad wat gepleeg is met die bedoeling om ʼn ander persoon te mislei. Die misleidende inligting moet veroorsaak dat die ander persoon verskillend optree as wat die geval sou wees as die inligting nie misleidend was nie.

Die wetlike definisie van “wanvoorstelling” verwys na ʼn vals verklaring wat deur ʼn persoon gemaak word, ongeag van die feit of hierdie verklaring gedoen is met die doel om iemand te bedrieg, inligting foutief weergee as gevolg van nalatigheid, of selfs ʼn onskuldige fout begaan is.  Wanvoorstelling sluit nie die uitdrukking van ʼn opinie of die interpretasie van die reg in nie. Die belastingbetaler moes ʼn verklaring gemaak het  wat feite bevat wat onwaar is.

Dit is belangrik om te let daarop dat onskuld nie as verskoning vir wanvoorstelling gepleit kan word nie. Belastingbetalers moet die inhoud van enige verklaring wat hulle maak rakende hul belastingaangeleenthede noukeurig nagaan vir akkuraatheid en korrektheid voordat die verklaring gemaak word.

Nie-openbaarmaking” verwys na die versuim om ‘n feit te openbaar waar daar ʼn plig is om dit bekend te maak. Of dit wel die betrokke individu se voorneme was om die feit te verberg, is irrelevant.

  1. Die bogenoemde bedrog, wanvoorstelling of nie-openbaarmaking van die wesenlike feite het daartoe gelei dat die belastingbetaler vir ʼn laer bedrag belasting geassesseer is, as wat die geval sou wees indien die feite in punt I hierbo aan SAID bekend gemaak is.

Daar moet bewyse gelewer kan word deur SAID dat daar ʼn direkte verband bestaan tussen die wanvoorstelling of nie-openbaarmaking van die wesenlike feite en die feit dat die belastingbetaler vir te min belasting aangeslaan is. Indien die bedrog, wanvoorstelling of nie-openbaarmaking van die wesenlike feite nie daartoe aanleiding gegee het dat die belastingbetaler vir minder belasting aanspreeklik gehou is as wat die geval sou wees indien die wesenlike feite in ag geneem is nie, word daar nie aan die tweede statutêre vereiste voldoen nie, en dus behoort SAID nie hierdie artikel van die TAA te kan toepas in so ‘n geval nie.

Oor die algemeen rus die onus om te bewys dat inkomste vrygestel is van belasting of dat ʼn uitgawe belastingaftrekbaar is op die belastingbetaler. Indien SAID egter hierdie artikel van die TAA wil toepas, sal hierdie bewyslas op die SAID rus.

Indien bedrog, wanvoorstelling of nie-openbaarmaking van wesenlike feite wel plaasgevind het, maar nie ‘n verskil gemaak het aan hoeveel belasting die belastingbetaler moet betaal nie, en SAID raak na die oorspronklike aanslag eers bewus van die wesenlike feite, kan SAID nie beweer dat die aanslag te laag was as gevolg van die bedrog, wanvoorstelling of nie-openbaarmaking nie.

Indien SAID ʼn addisionele aanslagwil uitreik gebaseer op punt I hierbo,  maar daar word nie voldoen aan die vereiste punt II nie, kan die belastingbetaler die situasie hanteer deur gebruik te maak van die beswaar en appèl bepalings volgens die belastingwette tot sy beskikking.

In die lig van SAID se vermoë om terugwerkend addisionele aanslae vir vorige belastingsjare uit te reik, mag dit ʼn goeie plan wees om belastingrekords langer as die voorgeskrewe periode te hou.

Bronnelys:

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou finansiële adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.

Comments are closed.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X