Die wanpersepsie bestaan dat, indien ‘n besigheid aan alle wetlike vereistes voldoen, dit ook goeie besigheidsetiek handhaaf. Wetlike voldoening beteken egter nie outomaties dat goeie morele sakepraktyke nagestreef word nie. ‘n Bestuurslid of ‘n werknemer se gedrag is dalk nie ‘n oortreding van enige wette nie, maar dit mag wel die standaarde van besigheidsetiek oorskry.
Wat is besigheidsetiek?
Besigheidsetiek is ‘n raamwerk vir aanvaarbare morele gedrag binne die werksplek deur die bestuur en werknemers.
Voordele van goeie besigheidsetiek
Goeie besigheidsetiek skep vertroue tussen kollegas sowel as tussen werknemers en kliënte.
Maatskappye met goeie besigheidsetiek lok makliker top talent, handhaaf en verbeter hul reputasie en vermy moeilikheid met die gereg.
Goeie besigheidsetiek dra by tot gelukkige werknemers en gelukkige werknemers is meer produktief.
Voorbeelde van swak besigheidsetiek
Prys onderkruipery, m.a.w. waar ‘n organisasie eers sy pryse verlaag om sy mededingers te laat vou en pryse daarna weer verhoog, is nie net ‘n voorbeeld van swak besigheidsetiek nie, maar is ook onwettig.
Onaanvaarbare gedrag deur die bestuur en/of werknemers in die werksplek, byvoorbeeld leuens, diefstal, seksuele teistering en diskriminasie takel vertroue onder die werknemers en tussen werknemers en die bestuur af.
Nog ‘n voorbeeld van swak besigheidsetiek is waar bates of gebruiksgoedere van die maatskappy vir privaat doeleindes aangewend word, bv. om kantoortoerusting huis toe te neem en dit teenoor jouself te regverdig met die feit dat jy vroeër die maand oortyd gewerk het.
Voorbeelde van goeie besigheidsetiek
Goeie besigheidsetiek praktyke by ‘n werkgewer sluit kwessies soos algemene behandeling van kollegas met respek, waardigheid, nie-diskriminasie, regverdigheid, onverdraagsaamheid teenoor seksuele teistering, verdraagsaamheid van mense se verskille en diversiteit, en begrip en respek vir teenstrydige opinies in.
Omgewingsetiek is van toepassing op ‘n organisasie se verantwoordelikheid teenoor die natuur en gemeenskap en sal kwessies soos aanspreeklikheid vir en voorkoming van besoedeling aanspreek.
Werknemersetiek sluit onder andere eerlikheid teenoor kliënte en kollegas, nederigheid, betroubaarheid, behandeling van ander met respek, toewyding aan die werknemer se werk en produktiwiteit in.
Kliënte-etiek kan beginsels soos die nakoming van kontrakte, openbaarmaking en erkenning van foute wat deur werknemers van die organisasie begaan is en die bekendmaking van enige gebreke in ‘n produk insluit.
Voorbeelde van finansiële etiek sal wees om eerlike rekeningkundige praktyke te volg en nie terugbetaling van reiskoste-eise kunsmatig te verhoog nie.
Opleiding
Die identifisering van besigheidsetiek doelwitte en die opleiding van werknemers rakende hierdie doelwitte word vereis ten einde ‘n kultuur van goeie besigheidsetiek en vertroue in die organisasie te skep, sowel as tussen die organisasie en sy kliënte of verskaffers. Deur opleiding rakende besigheidsetiek te verskaf, ontwikkel werknemers ‘n sensitiwiteit vir etiese kwessies en hulle leer hoe om moeilike morele situasies op hul eie op te los binne die raamwerk van die organisasie se etiese riglyne.
Veranderings in tegnologie en werksomgewings skep voortdurend nuwe etiese kwessies. Opleiding in etiek moet dus gereeld hersien word om te verseker dat die organisasie se etiekbeleid tred hou met huidige omstandighede en kwessies binne die werksomgewing.
Toepassing
‘n Effektiewe metode van toepassing of afdwinging van besigheidsetiek is ‘n oopvlekstelsel wat ‘n werknemer in staat stel om die bestuur naamloos in te lig van onetiese gedrag waarvan die werknemer bewus word. Werknemers vrees dikwels weerwraak wanneer hulle gevalle van onetiese gedrag onder die bestuur se aandag bring; met hierdie stelsel het die werknemers die keuse om anoniem te bly.
U sal weet wanneer uself skuldig is aan swak besigheidsetiek wanneer u verskonings vir u eie gedrag begin aanvoer en u dade begin regverdig om uself te probeer oortuig dat u gedrag nie werklik so onaanvaarbaar is nie.
Senior bestuurslede sowel as werknemers met ‘n laer rang moet ewe toegewy aan die morele standaarde wees ten einde ‘n kultuur te skep waarin goeie besigheidsetiek die norm eerder as die uitsondering is.
Indien u meer inligting rakende besigheidsetiek verlang, kontak asb u finansiële adviseur.
Verwysingslys:
Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)