Die mees algemene gesamentlike testament is dié van ‘n getroude paar. Dit beteken egter nie noodwendig dat die boedels saamgevoeg word en dat die Testateur en Testatrise dan gesamentlik oor die verdeling van hulle boedels moet besluit nie. Elke party kan steeds binne een testament afsonderlik oor die verdeling van sy/haar boedel besluit. Gevolglik is ‘n gesamentlike testament ‘n baie algemene verskynsel onder getroude pare, maar die persoon wat die testament opstel, moet met inagneming van die partye se bates, laste en ook hulle behoeftes vir vererwing oorweeg of hy ‘n afsonderlike of gesamentlike testament wil opstel, m.a.w. 2 afsonderlike testamente in een dokument omvat of een testament wat bepaal dat boedelsamesmelting van die onderskeie of gemeenskaplike boedels moet plaasvind.
In die geval van ‘n gesamentlike testament moet daar ook omskryf word hoe die testament uitgevoer moet word waar die man en vrou gelyktydig of binne ‘n kort periode bv. binne 30 dae na mekaar te sterwe sou kom. Die Testateur en Testatrise kon vir die argument in ‘n ongeluk betrokke gewees het. Die Testateur sterf en die Testatrise is in ‘n kritieke toestand en gevolglik nie in staat om weer ‘n testament op te stel nie; daar moet dus vir sulke gevalle in die testament voorsiening gemaak word.
Wetgewing erken die beginsel van testeervryheid; elke persoon het dus die reg om sy/haar bates te laat vererf soos hy/sy wil. ‘n Testateur en Testatrise sou dus ‘n gesamentlike testament kon hê en een van die partye kan besluit (om watter rede ook al) om ‘n verdere enkeltestament op te stel wat later gedateer is as die gesamentlike testament. Die langslewende sal dus nie kan aandring dat die gesamentlike testament as die laaste testament aanvaar word nie.
Die een party het beslis ook nie die ander party se toestemming nodig om ’n gesamentlike testament te wysig nie. Elke party het die reg om op enige stadium ’n nuwe testament op te stel, sonder enige verpligting om die ander party daaroor in te lig. As die gesamentlike testament dus die oorledene se laaste testament is, is dit die geldige testament ten opsigte van daardie oorledene, maak nie saak of die langslewende party intussen reeds ’n ander testament opgestel het nie.
Boedelsamesmelting vind plaas wanneer die boedel van twee persone by die dood van die eerste saamgevoeg word in een boedel, hoofsaaklik met die doel om met ‘n bate te handel waarin albei partye ‘n belang hou. Normaalweg behoort daar ’n beperkte reg, soos ’n vruggebruik, op enige van die bates in die boedel ten gunste van die langslewende geskep te word. Selfs met boedelsamesmelting het die oorlewende party ná die dood van die eerssterwende die reg om die gesamentlike testament en gevolglik die samesmelting van boedelbates te aanvaar of te verwerp. Dit kom dus daarop neer dat selfs waar boedelsamesmelting in die testament bepaal word, die gesamentlike testament eintlik weinig beteken indien die langslewende na die dood van die eerssterwende die bepalings van die testament verwerp.
Die wyse waarop die skepping van samesmelting in ‘n testament bewoord word, is uiters belangrik, aangesien ‘n verkeerde woordkeuse ‘n groot impak kan hê op die hantering van polisse wat die langslewende buite die boedel toeval. Die aanvaarding of verwerping van ‘n testament waarin samesmelting geskep word, behoort ook deeglik oorweeg te word, aangesien samesmelting verskeie implikasies, soos bv. Hereregte, Skenkingsbelasting en Kapitaalwinsbelasting tot gevolg kan hê.