Die skeiding van besigheids- en persoonlike uitgawes (deel 2): Hoe doen mens dit?

Separating business and personal expenses (Part2): How do you do it?
September 25, 2015
Cost management: 7 Tips for cutting business expenses
September 25, 2015

Die skeiding van besigheids- en persoonlike uitgawes (deel 2): Hoe doen mens dit?

Deel 1 in hierdie reeks artikels het die belangrikste redes waarom jy jou besigheid en persoonlike uitgawes apart moet hou bespreek. Hier volg ʼn kort opsomming van waarom hierdie uitgawes apart gehou moet word.

  • Indien die besigheidseienaar besluite rakende die besigheid moet neem, het hy akkurate finansiële inligting rakende die besigheid nodig. Indien die besigheidsrekords persoonlike uitgawes insluit, sal die besigheid se uitgawes te hoog wees en die winste te laag. Dit kan aanleiding daartoe gee dat die besigheid nie winsgewend voorkom nie. Die teendeel is egter ook waar. Indien die besigheidseienaar haar persoonlike fondse gebruik om besigheidsuitgawes van die besigheid te delg (sonder om die geld aan haarself terug te betaal) sal die besigheid ʼn baie hoër wins toon as wat eintlik die geval is.
  • Indien die SAID ʼn oudit op die besigheid uitvoer en persoonlike uitgawes is ingesluit by die besigheidsuitgawes, sal die wins te laag wees. Volgens belastingwetgewing mag persoonlike uitgawes nie vir belasting-doeleindes afgetrek word nie. Hierdie persoonlike uitgawes sal geïgnoreer word by die belastingberekening. Dit sal tot gevolg hê dat die belasbare inkomste en dus en belasting betaalbaar verhoog. Indien te min belasting betaal is kan die SAID boetes en rentes hef.

Dit wil dus voorkom of dit ʼn goeie plan kan wees om besigheid en persoonlike uitgawes apart te hou, maar hoe doen mens dit? Hier volg ʼn paar voorstelle waarmee jy kan begin:

Maak gebruik van aparte liasseerstelsels. Besigheid- en persoonlike uitgawes se onderskeie kwitansies moet apart gehou word en van meet af aan in verskillende plekke geliasseer word.

Boekhouding vir die betrokke uitgawes moet apart geskied. Gebruik twee aparte boekhoudingstelsels: een vir besigheidsuitgawes en ‘n ander een vir persoonlike uitgawes.

  • Maak aparte bankrekeninge oop.

Maak ʼn bankrekening oop wat slegs vir transaksies (deposito’s sowel as die betaling van rekeninge en dies meer) wat met die besigheid verband hou gebruik word.

  • Doen aansoek om ʼn besigheids-kredietkaart.

Hierdie kredietkaart moet slegs gebruik word om onkostes wat namens die besigheid aangegaan word te betaal. Persoonlike uitgawes moet vanuit jou persoonlike rekening, met ʼn persoonlike kredietkaart betaal word. Indien jou besigheid nie kwalifiseer vir ʼn kredietkaart nie, kan jy aansoek doen vir ʼn addisionele kredietkaart in jou persoonlike naam, en die kaart slegs vir besigheidstransaksies gebruik.

Alle transaksies tussen jou en jou besigheid moet op armslengte terme gedoen word. Wanneer daar transaksies tussen jou en die besigheid plaasvind moet die besigheidsentiteit duidelik apart van jou, as persoonlike entiteit, staan. Om verskeie regs- en finansiële redes is dit baie belangrik dat jy voldoende dokumentasie saamstel om die voorneme te ondersteun dat jy en die besigheid as aparte entiteite funksioneer.

  • Wanneer bates of kontant in die besigheid gestort word is dit van uiterste belang om die regte dokumentasieop te stel.

Maak seker dat daar genoegsame dokumentasie is om aan te toon dat die bates of kontant wat jy na die besigheid oordra as ʼn lening van jou aan die besigheid of as ʼn belegging deur jou in die besigheid beskou moet word.

  • Dokumentasie rakende geld of bates wat vanuit die besigheid onttrek word moet in orde wees.

Indien jy self vir jou besigheid werk, moet jy jouself ʼn markverwante salaris betaal vir die werk wat jy verrig. Die salaris moet vanuit die besigheid se bankrekening na jou persoonlike bankrekening oorbetaal word. Indien jy bates, byvoorbeeld voorraad, uit die besigheid neem, maak seker dat jy dit in die besigheid se boeke aanteken.

  • Indien die besigheid huur aan jou betaal, maak seker dat die korrekte dokumente vir hierdie transaksies opgestel word.

Indien die perseel waarvandaan die besigheid bedryf word in jou persoonlike naam geregistreer is, is dit belangrik dat jy ʼn huurkontrak tussen jou en die besigheid opstel.

Vanuit die bostaande inligting blyk dit duidelik dat die nodige dokumente beskikbaar moet wees vir alle transaksies wat tussen jou en die besigheid geskied op die tydstip wat die transaksie(s) plaasvind. Verder is dit belangrik dat alle aspekte van transaksies wat tussen jou en die besigheid plaasvind, op redelike en armslengte terme geskied. Deur persoonlike- en besigheidskwitansies, sowel as finansies, van meet af apart te hou kan in die toekoms baie probleme voorkom word, en tyd en geld bespaar.

Vir meer inligting rakende die skeiding van persoonlike- en besigheidsuitgawes kontak jou belasting of finansiële adviseur.

Bronnelys:

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&EO)

Comments are closed.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X